Hier maak ons gelukkige kinders groot deur empatie, geduld en hope liefde uit te deel.

Ons skryf saam aan hul storie met brei uit op onder andere:

  • Toekomsperspektiewe
  • Erkenning
  • Stabiliteit en roetine
  • Geborgenheid
  • Fisiese ontwikkeling
  • Emosionele groei
  • Akademiese verryking
  • Ondersteuning

Entoesiastiese personeel en leerders word omring met ‘n positiewe milieu sodat innoverende denke en optredes kan volg.

As onderwysers is dit vir ons uiters belangrik dat elke leerder teen die beste van hul vermoëns presteer. Ons eksperimenteer graag met die leermodelle vir die toekoms!

Die vooruitgaan in tegnologie is vir ons baie belangrik en daarom fokus ons in die Grondslagfase ook op vervlegte leer wat die vermenging van aanlyn met tradisionele leer bewerkstellig.

Indien ons kleinspan ekstra hulp nodig het met skolastiese vordering of emosionele welstand is ons daar om te ondersteun. Op ons skoolterrein is daar terapeute wat ook diep spore in kinders se lewe trap. Die pitstop vir spraak, arbeids, sielkundige, remediëring en leesterapie kan op ons terrein gemaak word. Die onderwysers bied ook hulpverleningsklasse aan vir leerders wat ekstra ondersteuning nodig het.

Die onderwyser berei elke leerder voor om met selfvertroue die derde hoofstuk van die Intersenfase op die hoogste akademiese vlak te skryf. Die kurrikulum word volgens die KABV aangebied. Die vakke Afrikaans, Engels Eerste addisonele taal, Wiskunde en Lewensvaardigheid word kreatief, konkreet en abstrak aan leerders bekend gestel.

Waar mens seker die diepste spore trap is in die vatbare gemoedere van kinders en daarom bly die glimlagte op ons graad een tot drie leerders se gesiggies ons belangrikste maatstaf.

Dié omgee-atmosfeer dra by tot elke kindjie in die Grondslagfase-hoofstuk se gelukkige einde.