weblogo Intersenfase

Die waarde van onderwys

Daar is ’n pragtige legende van ’n koning wat besluit het om ’n spesiale dag uit te roep waarop die belangrikste onderdaan in sy ryk vereer sou word. Toe die groot dag aanbreek was al wat leef en beef in die paleis se binnehof bymekaar.

Vier finaliste is voor die koning gebring.

Die eerste persoon wat voorgestel is was ’n skatryk filantroop. Die koning is meegedeel dat die man ’n uitstekende kandidaat is vir die titel vanweë al sy humanitêre pogings. Hy het baie van sy rykdom afgestaan aan die armes om hulle te help.

Die tweede was ’n gerespekteerde dokter. Die koning is meegedeel dat hy ook ’n goeie aanspraakmaker is omdat hy reeds vir jare pligsgetrou en baie liefdevol die siekes versorg het.

Die derde persoon was ’n vername regter. Die koning is meegedeel dat sy verdienstelikheid gebaseer is op sy besonderse wysheid, die regverdigheid wat hy toepas en die briljante besluite wat hy neem.

Die vierde persoon wat voorgestel is was ’n ou dame. Almal was opsigtelik verbaas om haar te sien want haar voorkoms en kleredrag was baie nederig. Sy het skaars gelyk soos iemand wat vereer kan word vir die groot en belangrike rol wat hul vervul in die koninkryk. Watter kans staan sy gemeet teen die ander drie kandidate? Maar afgesien van haar voorkoms was daar iets spesiaals omtrent haar ........ die liefde wat uitstraal uit haar gesig, haar stille selfvertroue.

Die koning het dit baie interessant gevind en was ietwat verbaas oor haar insluiting in die groep. Hy het gevra wie sy is.
Een van die onderdane antwoord: “Majesteit, u sien die filantroop, die dokter en die regter? Wel, sy was hul al drie se onderwyseres!”

So blyk dit ook die personeel van Laesrkool Lynnwood se doel en strewe. Om nie net op akademiese vlak te onderrig nie, maar leeders ook voor te berei vir die lewe en elkeen se volle potensiaal na te streef en te verwesenlik.

Hierdie passie en droom wat elke personeellid het, om ‘n verskil te maak in elke kind se lewe en om gelukkige en gebalanseerde kinders te ontwikkel, word hoog op prys gestel.

Die Intersen (gr. 4 – 6) en Seniorfase (gr. 7) leerders het hierdie jaar behoorlik met hulle talente gewoeker. Soos gewoonlik laat die Lynnies nie op hulle wag nie en word elke geleentheid aangegryp.

Die leerders handhaaf uitstekende standaarde, gemeet aan interne sowel as eksterne evaluering.  Die Gr. 4 tot 7 leerders neem deel aan die AMESA en Conquesta Olimpiades en behaal goeie prestasies.

Prestasie of wen is egter nie alles in die lewe nie, maar hoe jy die wedloop hardloop, maak die verskil. Daarom bly dit ‘n voorreg om deel van hierdie unieke en passievolle span te wees en om elke kind te sien ontwikkel in sy of haar eie reg.

Ilsé de de Villiers

Adjunkhoof Akademie

Desember 2017
S M T W T V S
1 2
3 4 5 6 7 8 9
10 11 12 13 14 15 16
17 18 19 20 21 22 23
24 25 26 27 28 29 30
31