Lynnies Naskoolsentrum is UNIEK. Ons bied u top kwaliteit en hope pret en plesier.
Ons leuse spreek vanself, hier ervaar jou kind persoonlike aandag en ‘n veilige omgewing wat hulle gemaklik en tuis laat voel, nes u dit by die huis sou doen.
Lynnies Naskool funksioneer op die skoolterrein. Die terrein word onderverdeel sodat maats van verskillende grade van mekaar geskei word. Gr. RRR – R leerders speel op die kleuterskoolterreine, Gr. 1 – 2 leerders speel op die Mimosaterrein en Gr. 3 – 7 leerders onder op die netbalvelde.
Ouers moet asb. persoonlik hul kinders by die Naskool kom afhaal by die elektroniese hek by die Kleuterskool of Mimosalaan. Die kode van die hek sal aan die begin van die jaar aan elke ouer deurgegee word. Teken asb. u kinders in die register uit elke middag. Skakel of SMS asb. vroegtydig indien iemand anders u kind/ers kom afhaal.
Naskool funksioneer stiptelik vanaf 13:00 – 17:30. Kontak u kind se naskool juffrou tydens noodgevalle.
Smaaklike middagetes word op die skoolterrein voorberei. Die spyskaart maak voorsiening vir 3 gekookte etes en 2 ligte etes per week. Die spyskaart word 4 weekliks herhaal.
Versnaperings of koekies-en-koeldrank word om 15:30 bedien om die hongerpyne weer te stil. Dit sluit ‘n broodjie, vrug en koeldrank in.
Na hul oggendprogram ontvang ons maats ‘n smaaklike middagete. Die Graad RRR kleuters rus elke dag na ete in hul eie klasse en sluit om 14:45 aan op die graad R-terrein. Graad RR en R-kleuters neem nie ‘n middagslapie nie, maar u kan wel ‘n skriftelike veroek rig indien u sou verkies dat u kleuter in die middae moet rus.
‘n Matrasfooi van R300 is betaalbaar vir ‘n matras en sloop met u kind se naam opgeborduur. Hierdie is ‘n eenmalige betaling. U kleuter sal bogenoemde aankope vir sy totale Naskoolkleuterloopbaan gebruik.
Spel vorm die belangrikste deel van ons kleuters se middagprogram. Kleuters speel onder toesig van personeel in die sandput, op klimrame en by die verskillende speelstasies.
Personeel moet skriftelik in kennis gestel word indien jou kind na ‘n buitemuurse aktiwiteit geneem moet word. Personeel en afrigters/dosente werk saam om hierdie diens aan ouers te lewer.
Huiswerk word onder streng toesig voltooi vanaf 14:00 – 16:00, daarna is alle personeel op terreindiens. Daar is ‘n laathuiswerk-klas beskikbaar vir leerders met buitemuurse aktiwiteite.
Take moet asseblief tuis gedoen word. Gr. 1 – 3 leerders skryf Donderdae diktee toets. Gr. 4 – 7 leerders leer deurlopend in die week vir hul kwartaaltoetse.
Naskoolpersoneel sal alles in hul vermoë doen om elke dag al die huiswerk by die naskool te voltooi. Ouerbetrokkenheid is absoluut noodsaaklik, daarom vra ons dat u gereeld u kinders se boeke nagaan.
Die meeste aktiwiteite vind op die skoolterrein plaas. Leerders sal nie na ‘n aktiwiteit gestuur word indien die personeel nie skriftelik in kennis gestel is nie.
Leerders word na aktiwiteite gestuur maar dis hul eie verantwoordelikheid om na hul huiswerkklas terug te keer.
Lynnies se Naskool spog met die BESTE vakansieprogramme in Pretoria. Die program funksioneer vanaf 07:15 – 17:30. Almal is welkom om in die pret te deel. Ingeskrewe naskoolleerders woon die program gratis by, dagbesoekersfooie beloop R115 per kind per dag.
Elke dag word opwindende aktiwiteite aangebied bv. kuns, opvoedkundige-instappies, waterkaskanades en vele meer. Programme is beskikbaar ongeveer 2 weke voor die vakansie.
In noodgevalle is ons net ‘n telefoonoproep ver! Ons ontvang dagbesoekers met ope arms, skakel dus vroegtydig om reëlings te tref. Kostes beloop R115 per dag per kind en sluit middagete en versnaperings in.
Naskoolfooie is streng vooruitbetaalbaar.
Skryfbehoeftes word verskaf aan Gr. 1 – 2 leerders, maar Gr. 3 – 7 leerders moet asseblief hul eie skryfbehoeftes voorsien.
Enkelkind |
Twee kinders |
Drie kinders |
R1 380 per maand* vir 11 maande |
R2 460 per maand* vir 11 maande |
R3 660 per maand* vir 11 maande |
*Ongeag aantal dae van bywoning
Betaalwyses: Maandelikse elektroniese betalings of debietorders.
Debietorders sal op die eerste werksdag van die maand aangebied word. Naskoolkostes is voor die sewende van die maand betaalbaar. Naskoolfooie is oor 11 maande betaalbaar waarvan die eerste paaiement reeds voor 7 Januarie betaalbaar is.
Kennisgewing moet 1 maand vooruit skriftelik gegee word andersins sal u aanspreeklik gehou word vir die maand se fooie.
Kom ervaar gerus hoe tuis jy voel by ONS huis!!